Saturday, February 10, 2007

Emirate - ''Empty Quarter'' woestyn



















Toe die lekkerste van lekker! Die regte, egte woestyn! Sand en rooi en weer sand! Daar is niks – die naam van Empty Quarter vertel alles! Maar dis mooi – mooier as mooi. Eintlik wil jy sommer huil en bietjie lag en sommer mal wees as jy daar met sonopkoms bo-op ‘n rooi duin sit en die leë wêreld om jou wakker word. Dit is so ‘n grootsheid dat jy weet, jy is baie, baie klein!





So ‘n klomp van ons – 5 viertrek voertuie, is die oggend na kerk daar weg uit Abu Dhabi en het die pad gevat woestyn toe. Gelaai met water, water, water, kos en slaapgoed is ons daar by die Reenboog Sjeik se motermuseum varby.
Natuurlik het ons eers gestop en gestaar! Daar is enigiets – dit is baie mooi, maar regtig weird. Ek bedoel, al daai moters – en daar was vêr oor die tweehonderd (en party was nie eers daar nie) is een ou s’n? Komaan! ‘n Mercedes vir elke dag van die week – en dit elke keer in ‘n ander kleur? En al daai rye en rye ou limousines, van jare toet tot nou! Landrovers en Jeeps (die ou regte sort) by die dosyne en rye van die snaakse klein karretjies. Party lyk soos moonbuggies, ander is pantserkarre – en dan daai bakkie! So hoog soos ‘n drieverdieping huis met ‘n woonstel met tweeslaapkamers in die kajuit! En hy kan ry. Sy sleepwa wat soos ‘n aardbol lyk en ook ‘n huis is, staan buite. Ek het geweet daar is snaakse mense op aarde, maar ek vra askies vir die familie en vriende wat ek al so agterdogtig aangekyk en gewonder het of al die varkies op hok is.



Daar verby is ons so ‘n verderde 180 km die vlaktes in op ‘n dubbele snelweg met bome en lamppale, terwyl die rooi duine en die niks by die vensters verbyskuif. Later afgedraai op ‘n grondpad en toe 2 klein oases verder is ons die woestyn in. Eers stilgehou en die bande afgeblaas dat hulle soos ‘n voorry se magie oor die broek hang. Help om bo-op die sand te bly – ek neem aan mens moet enigiets poog om bo-op daai sand te bly!
Toe is ons vort die woestyn in – bly ek is nie gevra om voor te ry nie – waarheen sou ek nie weet. Maar blykbaar was daar ‘n woestynsnelweg, want ons het menigte ander konvooitjies en Arabierbelaaide luukse 4x4’s die op daai ‘’pad’’ teengekom. Selfs ‘n ou swaargelaaide Land Cruiser met ‘n nog ouer Arabier agter die stuur – op sy eie met die kameelvoer en lekke agterop teen ‘n slakkepas, die een duin op en die ander af.
Plek – plek is daar kamele in die woestyn, party loop darem in die straat tussen duine by yl groen vetplanterige bossies, maar baie loop daar waar net sand is! Ons is daar by sulke kameelplasies verby, maar ek het ‘n idée hulle is erg nomadies en trek so agter die weiveld aan. Soos die kamele die sand op een plek opvreet, so trek hulle ‘n kilo of tien aan. Niks behalwe ‘n hoop gemors buite, 3 of 5 tente, ‘n smart 4x4, klomp kamele in die omgewing en sand, sand.
Het later gekamp so teenaan ‘n hoë rooi duin tussen daai groen bossies en tente opgeslaan. As jy stilstaan en luister, dan hoor jy dit – die stilte. Dit is stil met ‘n hoofletter STIL. Die duine daarna gevat met almal wat wou gaan skuur. Was die eerste keer dat ek duine ry, en dit is baie, baie lekker! Ek moet sê, was diep skrikkerig toe ons daai hoë duine af is en veral toe ek besef dat as ek daai voorwiele ‘n aks draai, ons soos ‘n tolbossie daai duine gaan afrol. Het juis een foto so deur die voorruit geneem.
So met sonsak saam het ons opgery tot bo-op ‘n hoë duin om ‘n sundowner te drink. Natuurlik het ek met die terugkamptoe vasgesit op ‘n duinrif! Well, iemand moet dit doen sodat ons die ander voertuie kan toets met die uittrekslag!
Vuurgemaak en gebraai daar in die woestyndonker – en gevoel hoe trek die lekkergeit sommer so diep in mens se gebeentes in. Het sommer so diep verlang na almal wat ek ken en almal wat ek nie ken nie. Elkeen so in my gedagtes gesit en hallo sê en wonder waar elkeen is.






































Ek het lanklaas so lekker geslaap soos in daai woestyn – toe die son net so wil-wil oor die duine loer is ek en die kamera die duine in om te sien hoe die son en die wegsyferende nagskadu die woestyn elke minuut in ‘n ander landskap omtower. Dis of mens so maklik met die Here daar kan praat as die woestyn elke oomblik in ‘n mooier as vorige prentjie omskakel. Moet wees hoekom die Israeliete 40 jaar in die woestyn moes swerf tot die ongelowige geslag uitgesterf het – in daai woestyn besef jy jou kleinheid en jou totale afhanklikheid van God.




























Na ontbyt is ons weer die duine in – tot ons ‘n duin gekry het wat my van onder af al hartklopping gegee het! Tollende wiele en baie hoë revolusies later is ons met ompaaie bo – en toe! Daar af! Ek was baie, baie bly toe ons veilig onder land! Sien hoe klein is die karretjies daar onder op die foto waar ons so bo-op die duin staan? Ja, ons is daar af!



















Na als opgepak is, is ons weer met die pad die woestyn uit – bande gepomp daar by ‘n petrolstasie en koeldrank gekoop by ‘n winkeltjie waar ‘n ou Arabier op ‘n verslete rusbank in die son ons net woordeloos sit en bekyk het.
Toe ons daai lang snelweg terug vat Abu Dhabi toe en almal begin soek na kussings vir die moë hoofde, toe weet ek, eendag, gaan ek weer terugkom!

No comments: