Saturday, February 3, 2007

Abu Dhabi

Wou nog altyd ‘n woestyn gesien het – ‘n regte, egte woestyn. Nie sommer ‘n duin hier en daar nie, nee, ‘n njannies kupêla woestyn.

Dis die dat ek die anderdag – die 13de Januarie myself aangemeld het hier op die Johannesburg Internasionale Lughawe – groottas, kajuittas en trui – onthou, dit is winter in die Emirate! Ja, OK, ek weet hulle – wie’s hulle? – het die arme lughawe een of ander ondergrondse naam gegee, maar die ander – wie’s hulle? – en die res van die wêreld, hou nie van verdwaal nie, en noem dit dus sommer Jhb Internasionaal. Ek sal jou aanraai om nie daai ondergrondse naam te gebruik nie, eerstens kan jy jouself dalk op ‘n 4de handse 1939 Dakota met 2 x AK47 -draende lugwaardinne bevind wat gereed maak om neertestryk / te stort op ‘n sakdoekgroote bosaanlopbaan tussen Soedan se oostelike grens en Zimbabwe se suidelike grens – keuse waarskynlik nie joune nie.

Om terug te keer Johannesburg toe – dis besig daar en lekker! Mense om te kyk en dinge om te sien. Die wag is lank en die tye slegs aanduidings – maar wat, as jy dit nie teen hierdie tyd gewoond is nie, gaan nog 13 jaar van regstellende tydsbesteding in die nuwe demokrasie jou dit nie aanleer nie. Ewenwel, daar is ek toe, getrui on die tas en wagtend. Na ‘n intensiewe toer (en soektog deur die busdrywer of is dit deesdae – busbewegingsbeheeroffisier?) van die omvangryke grondgebied en fasiliteite van die lughawe (en ek verseker jou – dis omvangryk!), het ons die vliegtuig opgespoor. Daar anderkant die goedereloodse – halfpad terug Pta toe. Lewensgroot staan die Etihadlugdiens daar – in goud en wit.

Ek’s deesdae nie ‘n oorywerige lugdiens ondersteuner nie – die SA Lugdiens het die hele vliegstorie vir my oor die laaste paar jare erg versuur, maar ek moet eerlik sê, Etihad is diep aangenaam! Hulle verstaan – in teenstelling met die SAL, die word proffessioneel. Ek dink die SAL se nuwe leuse is ‘’ MEER VIR MINDER’’ Meer geld vir Minder diens.

So stap ek die aand na 8 ure in die lug af op Abu Dhabi se lughawe. Geretina geondersoek – wonder nog steeds wat het hulle in my oog gesoek en gesien? – gepaspoort en gevisum en tassekry later, het ek met verligting Hein en Kim gehallo. Met die uitkomslag het ek geweet – die trui kan maar in die tas bly – winter of te nie – die wêreld daarlangs is warm!
So met die verkeerde kant van die pad saam en onder straatligte deur al die pad tot in Abu Dhabi het ek die wêreld bekyk, beruik en gevoel hoe raak SA klein en vêr daar onder op ‘n ander vasteland.

Abu Dhabi is mooi – as mens ‘n woestyndorp of ‘n woestyneiland of so iets, mooi kan noem vir ‘n kind van Afrika. Die strate is groot en mooi, die motors en 4x4’s onbeskryflik, die geboue is die een mooier as die ander en die strate is skoon!! Daar is tot bome – rye en rye bome wat aangeplant is – duisende van hulle, elk met sy eie klein natleipypie. Die stad is sag op die oog, maar besig. Een ding wat in gemeen is met tuis, hier is bestuur ook nie eintlik ‘n vak wat geslaag word nie! Hulle doen die swak bestuur net vinniger as tuis – die karre is vinniger hier!
Die stad met sy duisende verskillende argitektuur, die mooi villas van die Arabiere, die in-swart gehulde mooi-oog Arabier vrouens, die ontsaglike paleise van die Sjeiks, die 7 ster hotelle en die besige inkopiesentrums – dis whaau! Ek het gekyk, gekyk en weer gekyk. Die duisende piep-klein winkeltjies onder elke woonstelblok (van kafee, groceriewinkel, haarsalon, tyre repair tot droogskoonmaker en Arabierse barbiere) wat klokslag 13h00 tot 16h00 toemaak sodat die werkers – Christen en Mohamedaan – langbeen onder die bome, langs die muur, onder die toonbank – net waar kan, lê en siesta, het my gefasineer. 1600 Uur staan hulle op – maak die deure oop en tot vanaand 22h00 en selfs party tot 24h00 is almal nog oop – selfs al kom daar niemand.

Van die 7 ster Emirates Palace Hotel wil ek nie vertel, behalwe dat is rerig, rerig diep smart is. Nie plastic amerikaans smart of nuwe afrika renaissance smart nie, nee, regtig classy smart! Van die ontsaglike ingange tot die blink graniet trappe en sypaadjies tot die kleurespel van ligte en graniet, glas en marmer en dan die tapyte - diep en sag - was lus en loop kaalvoet sodat ek dit regtig kon waardeer.





Van die British Club en die toeriste hotelle waar meeste van die ex-pats en hoofsaaklik westerlinge (ook Suid – Afrikaners) uithang, die hawe met sy regte hout Dhows wat die vissers steeds gebruik, tot by die regte, egte Arabiese restaurante wat die heerlikste mutton - briani maak; is dit ‘n heerlike stad. ‘n Woord van waarskuwing!! – moet nie gevang word in die verkeer van die sokker skares wat uitkom na ‘n wedstryd nie – Loftus se ongeskiktes is diep geskik teen hulle!





















Buite Abu Dhabi is daar ‘n wit woestyn – ek het nie geweet dat daar 7 verskillende kleure woestyn / sand in die Emirate is nie! Ewenwel, ons is daar na die wit woestyn toe om te kyk of ons valkeniers kan raakloop wat oefen. Ongelukkig het die vars bries die valkeniers binneshuis gehou – het egter die kalksteenformasies wat deur die wind en sand in die onbeskryflikste vorms en strukture gevorm word, gaan kyk. Daar so in die oopheid van die woestyn, maak mens so wonder oor jou nietigheid. Die gevoel het my weer gepak daar in die rerige woestyn – maar ek kom later daarby.













So sonder valke is ons daar na die kameelresiesbaan toe waar die kamele oefen. Styf gekombers teen die koue het die logge skepe van die woestyn in bondels verbygekom, een se kombers mooier as die ander. Ek kan glo dit is ‘n gesig om te sien, so op ‘n resiesdag as die kamele om daai baan skommel met die eienaars se 4x4’s so links en regs van die baan – al aanhitsende!









































Die sonsondergange is baie besonders - veral as die wind gewaai het en die lug vol stof is. Dit is ook van die mooiste tye om die stad van 'n afstand te bekyk - hier is 'n paar fotos daarvan.
































1 comment:

Anonymous said...

Good post.