Wednesday, February 14, 2007

Emirate - Al Ain







Al Ain is vreemd.






Die woestynstad wat teen die grens met Oman lê, is ook die geboorteplek van die vorige president – het gevolglik baie ekstra fondse vir ontwikkeling gekry.

Dit is die 4de grootste stad in die Emirate, maar geen gebou is hoër as 4 verdiepings nie. Die stad het reeds ongeveer 4 000 jaar gelede begin ontstaan – nie dat daar enige waarneembare tekens van is nie – en is gegrond op die teenwoordigheid van die massiewe oase. In teenstelling met my geloof dat ‘n oase ‘n oop gat water omring met palmbome is, is die enigste water in die enorme oase wat bedek is met palmbome, dié in leivore en strome. Blykbaar is die eerste van die tonnels en strome /leivore reeds 3 000 jaar gelede begin.

























Was ook by die groentemark en vismark aan – die gewone groente en nog alllerhande interressante kruie en knolle – mens kan ure daar spandeer – al is dit net om vir die mense te kyk.



Die vismark gedeelte is oop – en daai reuk verduidelik jou reeds van vêr dat jy die vismark nader. Die vis is egter vars en soos jy die vis daar kies, maak hulle dit net langsaan vir jou skoon en sny dit op na jou smaak.













Al Ain is ‘n meer Arabier stad as die ander wat ek tot dusvêr gesien het – baie minder Westerlinge. Met die draai daar by die bok en kameel veilings was ons die enigste wat nie afstam van Ismael nie. Daai manne daar is diep rustig - Afrika kan loop leer by hulle.


Elke verkoper sit so agter sy vraggie bokke – meeste so op die hurke (die verkopers, nie die bokke nie)– en so sit hulle vir ure en gesels, sommer net kyk, of rook. Al die hokke is ou vragmoters of bakkies wat nie meer bande het nie.


Ons is toe die stad uit op pad na Abu Dhabi (die Emiraat) se enigste berg. Die Jebel Hafit berg is ‘n ruwe klip en troon 1 000 meter hoog bo die woestyn. Teen sy voet is ‘n warmwaterbron wat in ‘n rusoord ontwikkel word. Oral word groenigheid en loof aangeplant om die bar klip by die rusoord te versag.




















So van aanplant gepraat – buite die oase (rondom Al Ain) is daar ‘n aangeplante 18 miljoen palmbome en 100 miljoen ander bome!!!! Die bome word almal natgelei – met ontsoute en afval water, nie die oase se water nie!

Terug te kom na die berg – een van die Sjeiks wou graag ‘n paleis bo-op die berg gehad het, toe bou hulle daar bo-op ‘n paleis! Met ‘n 16 km lange 3 laan teerpad met straatligte tot heelbo. Wat sal ‘n man dan nou sukkel? Intussen is daar ‘n baie mooi hotel ook daar bo gebou met die wydste uitsig wat ek lanklaas gesien het. As jy nou regtig diep gatvol is vir almal, dan gaan soek jy rustigheid daar!





















Te gou het dit tyd geraak dat ek weer ‘n Afrikaan moes word. Dit was lekkerder as lekker – mens besef eers as jy terug is hoe vreemd anders daardie deel van die wêreld van ons pragtige land is – vreemd, maar ook anders mooi.

Het die aand toe ek daar op Abu Dhabi se lughawe gesit en wag het vir my 01h45 vlug, geweet – ek sal weer terug gaan. Al gaan ek net weer die woestyn kyk!

Monday, February 12, 2007

Emirate - Dubai

































Dubai is Jo’burg. Dubai is net mooier en groter met onbeskryflike argitektuur en die meeste hyskrane wat ek nog gesien het. Hulle bou soos ons sal moet bou om betyds reg te wees vir die sokker van 2010, en dit lyk nie of hulle in die afsienbare toekoms gaan stop nie! Ek dink die regering moet daai ouens vra om hier te kom bou – kan dalk help.
















Verstommend om te dink dat 40 jaar gelede was Dubai net ‘n pêrelduikende nedersetting! Die mooiste is die ‘’creek’’ wat deur Dubai loop en al die watertaxi’s wat heen en weer oorkruis. Daar is enigiets, van honderde watertaxies, ou houtvragskepe wat vrag op en af langs die kus vervoer, moterbote en duisende seemeeue. Die kontras tussen daai ou bote en die toringhoë glasgeboue is waau!

Die klein stegies en ou deel van die stad is my gunsteling – saar is die interressantste winkeltjies en mense – so bietjie weg van die gepoleerde toerisme dele. Daar is te veel om op te noem – die museum, die ‘’gold souk’’ met die 24 karaat goud in die vensters, die duisende stegies vol winkeltjies, die blink paleise en hotelle, die geroesmoes van ‘n internasionale kapetalistiese stad – die oue en die toekoms (wat eintlik al vandag gebou word), hand – aan – hand.








Van die Burj Al-Arab Hotel (hoogste hotel in die wereld) wat ‘n moet is om te sien (anders was jy nie daar nie), tot die beeldhouwerk van ‘ groep kamele deur die Suid Afrikaanse Danie De Jager, tot die verbysterende woon – eilande wat in die see gebou word – ek moet erken, ek was beindruk!

















‘n Paar interresante feite: Die Burj Dubai is in wording – staan reeds op 110 verdiepings en sal met voltooiing die hoogste gebou en struktuur ter wereld wees – met ‘n hyser / lift wat tot 64 km/h haal 9sal 2 x so hoog soos die Empire States gebou in New York wees); dan is daar ‘n 30 verdieping, 200 woonstel gebou wat tans voltooi word wat op sy voetstuk roteer en ‘n volle omwenteling elke week maak – praat van verandering van uitsig!











Blykbaar gaan die Dubai Waterfront waarmee reeds begin is, by voltooiing 2 en ‘n half keer so groot soos die totale Washington wees – sowat 800 km se mensgemaakte waterfront ekstra!

































Maar Dubai is nie lekker nie – nie soos Abu Dhabi nie. Abu Dhabi voel soos huis – Dubai voel soos dorp toe gaan, baie lekker, maar lekkerder om terug te kom huis toe.










































Saturday, February 10, 2007

Emirate - ''Empty Quarter'' woestyn



















Toe die lekkerste van lekker! Die regte, egte woestyn! Sand en rooi en weer sand! Daar is niks – die naam van Empty Quarter vertel alles! Maar dis mooi – mooier as mooi. Eintlik wil jy sommer huil en bietjie lag en sommer mal wees as jy daar met sonopkoms bo-op ‘n rooi duin sit en die leë wêreld om jou wakker word. Dit is so ‘n grootsheid dat jy weet, jy is baie, baie klein!





So ‘n klomp van ons – 5 viertrek voertuie, is die oggend na kerk daar weg uit Abu Dhabi en het die pad gevat woestyn toe. Gelaai met water, water, water, kos en slaapgoed is ons daar by die Reenboog Sjeik se motermuseum varby.
Natuurlik het ons eers gestop en gestaar! Daar is enigiets – dit is baie mooi, maar regtig weird. Ek bedoel, al daai moters – en daar was vêr oor die tweehonderd (en party was nie eers daar nie) is een ou s’n? Komaan! ‘n Mercedes vir elke dag van die week – en dit elke keer in ‘n ander kleur? En al daai rye en rye ou limousines, van jare toet tot nou! Landrovers en Jeeps (die ou regte sort) by die dosyne en rye van die snaakse klein karretjies. Party lyk soos moonbuggies, ander is pantserkarre – en dan daai bakkie! So hoog soos ‘n drieverdieping huis met ‘n woonstel met tweeslaapkamers in die kajuit! En hy kan ry. Sy sleepwa wat soos ‘n aardbol lyk en ook ‘n huis is, staan buite. Ek het geweet daar is snaakse mense op aarde, maar ek vra askies vir die familie en vriende wat ek al so agterdogtig aangekyk en gewonder het of al die varkies op hok is.



Daar verby is ons so ‘n verderde 180 km die vlaktes in op ‘n dubbele snelweg met bome en lamppale, terwyl die rooi duine en die niks by die vensters verbyskuif. Later afgedraai op ‘n grondpad en toe 2 klein oases verder is ons die woestyn in. Eers stilgehou en die bande afgeblaas dat hulle soos ‘n voorry se magie oor die broek hang. Help om bo-op die sand te bly – ek neem aan mens moet enigiets poog om bo-op daai sand te bly!
Toe is ons vort die woestyn in – bly ek is nie gevra om voor te ry nie – waarheen sou ek nie weet. Maar blykbaar was daar ‘n woestynsnelweg, want ons het menigte ander konvooitjies en Arabierbelaaide luukse 4x4’s die op daai ‘’pad’’ teengekom. Selfs ‘n ou swaargelaaide Land Cruiser met ‘n nog ouer Arabier agter die stuur – op sy eie met die kameelvoer en lekke agterop teen ‘n slakkepas, die een duin op en die ander af.
Plek – plek is daar kamele in die woestyn, party loop darem in die straat tussen duine by yl groen vetplanterige bossies, maar baie loop daar waar net sand is! Ons is daar by sulke kameelplasies verby, maar ek het ‘n idée hulle is erg nomadies en trek so agter die weiveld aan. Soos die kamele die sand op een plek opvreet, so trek hulle ‘n kilo of tien aan. Niks behalwe ‘n hoop gemors buite, 3 of 5 tente, ‘n smart 4x4, klomp kamele in die omgewing en sand, sand.
Het later gekamp so teenaan ‘n hoë rooi duin tussen daai groen bossies en tente opgeslaan. As jy stilstaan en luister, dan hoor jy dit – die stilte. Dit is stil met ‘n hoofletter STIL. Die duine daarna gevat met almal wat wou gaan skuur. Was die eerste keer dat ek duine ry, en dit is baie, baie lekker! Ek moet sê, was diep skrikkerig toe ons daai hoë duine af is en veral toe ek besef dat as ek daai voorwiele ‘n aks draai, ons soos ‘n tolbossie daai duine gaan afrol. Het juis een foto so deur die voorruit geneem.
So met sonsak saam het ons opgery tot bo-op ‘n hoë duin om ‘n sundowner te drink. Natuurlik het ek met die terugkamptoe vasgesit op ‘n duinrif! Well, iemand moet dit doen sodat ons die ander voertuie kan toets met die uittrekslag!
Vuurgemaak en gebraai daar in die woestyndonker – en gevoel hoe trek die lekkergeit sommer so diep in mens se gebeentes in. Het sommer so diep verlang na almal wat ek ken en almal wat ek nie ken nie. Elkeen so in my gedagtes gesit en hallo sê en wonder waar elkeen is.






































Ek het lanklaas so lekker geslaap soos in daai woestyn – toe die son net so wil-wil oor die duine loer is ek en die kamera die duine in om te sien hoe die son en die wegsyferende nagskadu die woestyn elke minuut in ‘n ander landskap omtower. Dis of mens so maklik met die Here daar kan praat as die woestyn elke oomblik in ‘n mooier as vorige prentjie omskakel. Moet wees hoekom die Israeliete 40 jaar in die woestyn moes swerf tot die ongelowige geslag uitgesterf het – in daai woestyn besef jy jou kleinheid en jou totale afhanklikheid van God.




























Na ontbyt is ons weer die duine in – tot ons ‘n duin gekry het wat my van onder af al hartklopping gegee het! Tollende wiele en baie hoë revolusies later is ons met ompaaie bo – en toe! Daar af! Ek was baie, baie bly toe ons veilig onder land! Sien hoe klein is die karretjies daar onder op die foto waar ons so bo-op die duin staan? Ja, ons is daar af!



















Na als opgepak is, is ons weer met die pad die woestyn uit – bande gepomp daar by ‘n petrolstasie en koeldrank gekoop by ‘n winkeltjie waar ‘n ou Arabier op ‘n verslete rusbank in die son ons net woordeloos sit en bekyk het.
Toe ons daai lang snelweg terug vat Abu Dhabi toe en almal begin soek na kussings vir die moë hoofde, toe weet ek, eendag, gaan ek weer terugkom!

Saturday, February 3, 2007

Abu Dhabi

Wou nog altyd ‘n woestyn gesien het – ‘n regte, egte woestyn. Nie sommer ‘n duin hier en daar nie, nee, ‘n njannies kupêla woestyn.

Dis die dat ek die anderdag – die 13de Januarie myself aangemeld het hier op die Johannesburg Internasionale Lughawe – groottas, kajuittas en trui – onthou, dit is winter in die Emirate! Ja, OK, ek weet hulle – wie’s hulle? – het die arme lughawe een of ander ondergrondse naam gegee, maar die ander – wie’s hulle? – en die res van die wêreld, hou nie van verdwaal nie, en noem dit dus sommer Jhb Internasionaal. Ek sal jou aanraai om nie daai ondergrondse naam te gebruik nie, eerstens kan jy jouself dalk op ‘n 4de handse 1939 Dakota met 2 x AK47 -draende lugwaardinne bevind wat gereed maak om neertestryk / te stort op ‘n sakdoekgroote bosaanlopbaan tussen Soedan se oostelike grens en Zimbabwe se suidelike grens – keuse waarskynlik nie joune nie.

Om terug te keer Johannesburg toe – dis besig daar en lekker! Mense om te kyk en dinge om te sien. Die wag is lank en die tye slegs aanduidings – maar wat, as jy dit nie teen hierdie tyd gewoond is nie, gaan nog 13 jaar van regstellende tydsbesteding in die nuwe demokrasie jou dit nie aanleer nie. Ewenwel, daar is ek toe, getrui on die tas en wagtend. Na ‘n intensiewe toer (en soektog deur die busdrywer of is dit deesdae – busbewegingsbeheeroffisier?) van die omvangryke grondgebied en fasiliteite van die lughawe (en ek verseker jou – dis omvangryk!), het ons die vliegtuig opgespoor. Daar anderkant die goedereloodse – halfpad terug Pta toe. Lewensgroot staan die Etihadlugdiens daar – in goud en wit.

Ek’s deesdae nie ‘n oorywerige lugdiens ondersteuner nie – die SA Lugdiens het die hele vliegstorie vir my oor die laaste paar jare erg versuur, maar ek moet eerlik sê, Etihad is diep aangenaam! Hulle verstaan – in teenstelling met die SAL, die word proffessioneel. Ek dink die SAL se nuwe leuse is ‘’ MEER VIR MINDER’’ Meer geld vir Minder diens.

So stap ek die aand na 8 ure in die lug af op Abu Dhabi se lughawe. Geretina geondersoek – wonder nog steeds wat het hulle in my oog gesoek en gesien? – gepaspoort en gevisum en tassekry later, het ek met verligting Hein en Kim gehallo. Met die uitkomslag het ek geweet – die trui kan maar in die tas bly – winter of te nie – die wêreld daarlangs is warm!
So met die verkeerde kant van die pad saam en onder straatligte deur al die pad tot in Abu Dhabi het ek die wêreld bekyk, beruik en gevoel hoe raak SA klein en vêr daar onder op ‘n ander vasteland.

Abu Dhabi is mooi – as mens ‘n woestyndorp of ‘n woestyneiland of so iets, mooi kan noem vir ‘n kind van Afrika. Die strate is groot en mooi, die motors en 4x4’s onbeskryflik, die geboue is die een mooier as die ander en die strate is skoon!! Daar is tot bome – rye en rye bome wat aangeplant is – duisende van hulle, elk met sy eie klein natleipypie. Die stad is sag op die oog, maar besig. Een ding wat in gemeen is met tuis, hier is bestuur ook nie eintlik ‘n vak wat geslaag word nie! Hulle doen die swak bestuur net vinniger as tuis – die karre is vinniger hier!
Die stad met sy duisende verskillende argitektuur, die mooi villas van die Arabiere, die in-swart gehulde mooi-oog Arabier vrouens, die ontsaglike paleise van die Sjeiks, die 7 ster hotelle en die besige inkopiesentrums – dis whaau! Ek het gekyk, gekyk en weer gekyk. Die duisende piep-klein winkeltjies onder elke woonstelblok (van kafee, groceriewinkel, haarsalon, tyre repair tot droogskoonmaker en Arabierse barbiere) wat klokslag 13h00 tot 16h00 toemaak sodat die werkers – Christen en Mohamedaan – langbeen onder die bome, langs die muur, onder die toonbank – net waar kan, lê en siesta, het my gefasineer. 1600 Uur staan hulle op – maak die deure oop en tot vanaand 22h00 en selfs party tot 24h00 is almal nog oop – selfs al kom daar niemand.

Van die 7 ster Emirates Palace Hotel wil ek nie vertel, behalwe dat is rerig, rerig diep smart is. Nie plastic amerikaans smart of nuwe afrika renaissance smart nie, nee, regtig classy smart! Van die ontsaglike ingange tot die blink graniet trappe en sypaadjies tot die kleurespel van ligte en graniet, glas en marmer en dan die tapyte - diep en sag - was lus en loop kaalvoet sodat ek dit regtig kon waardeer.





Van die British Club en die toeriste hotelle waar meeste van die ex-pats en hoofsaaklik westerlinge (ook Suid – Afrikaners) uithang, die hawe met sy regte hout Dhows wat die vissers steeds gebruik, tot by die regte, egte Arabiese restaurante wat die heerlikste mutton - briani maak; is dit ‘n heerlike stad. ‘n Woord van waarskuwing!! – moet nie gevang word in die verkeer van die sokker skares wat uitkom na ‘n wedstryd nie – Loftus se ongeskiktes is diep geskik teen hulle!





















Buite Abu Dhabi is daar ‘n wit woestyn – ek het nie geweet dat daar 7 verskillende kleure woestyn / sand in die Emirate is nie! Ewenwel, ons is daar na die wit woestyn toe om te kyk of ons valkeniers kan raakloop wat oefen. Ongelukkig het die vars bries die valkeniers binneshuis gehou – het egter die kalksteenformasies wat deur die wind en sand in die onbeskryflikste vorms en strukture gevorm word, gaan kyk. Daar so in die oopheid van die woestyn, maak mens so wonder oor jou nietigheid. Die gevoel het my weer gepak daar in die rerige woestyn – maar ek kom later daarby.













So sonder valke is ons daar na die kameelresiesbaan toe waar die kamele oefen. Styf gekombers teen die koue het die logge skepe van die woestyn in bondels verbygekom, een se kombers mooier as die ander. Ek kan glo dit is ‘n gesig om te sien, so op ‘n resiesdag as die kamele om daai baan skommel met die eienaars se 4x4’s so links en regs van die baan – al aanhitsende!









































Die sonsondergange is baie besonders - veral as die wind gewaai het en die lug vol stof is. Dit is ook van die mooiste tye om die stad van 'n afstand te bekyk - hier is 'n paar fotos daarvan.